Michelle Stevens story

Ek wil graag vertel hoe René de Bruyn my en my dogter se lewe verander het.

My dogter was 15 weke oud toe sy op 4 Maart 2017 opgeneem in Mediclinic Hoogland agv swelling op die brein wat toegeskryf is aan vog of ‘n tumor.  Die onmiddellike prognose was dat sy waarskynlik nie die nag sou oorleef nie en indien wel, sou sy massiewe breinskade oorhou.   Naas die omstandighede rondom haar opname, was dit min of meer die vreeslikste nuus wat ek al ooit ontvang het.

Die swart deel op die scan is die vog wat haar brein begin in mekaar gedruk het.

Op daardie stadium het ons in Bethlehem, Vrystaat, gewoon en Emma-Lee moes haas na Bloemfontein oorgeplaas word om behandel te word deur ‘n neurochirurg.   Sy is 48 uur later geopereer om ‘n shunt (drein) in te plaas om die vog van haar brein te dreineer, maar die operasie het gedui dat sy etlike skedelbreuke en breinbloeding het.   Die neurochirurg se beskrywing was dat dit lyk soos ‘n pasient wat in ‘n massiewe motorongeluk was. 

Tydens die operasie is ‘n eksterne drein in haar kop geplaas om die vog en bloed te dreineer uit haar brein.  Sy mag glad nie opgetel gewees het nie en mag slegs deur die verpleegpersoneel op haar sye gedraai word.  

René was egter ons engel wat oor haar pad gekom het en ek glo dit was nie per toeval nie.  Ek het ongelukkig nie die voorreg gehad om haar tydens my dogter se opname te ontmoet nie, want ek moes steeds in Bethlehem wees vir werksverpligtinge.   My ouers het deurlopend met René gewerk en ook my dogter ondersteun in die hospitaal tot ek die naweek weer by haar kon wees.   Daar is egter heeltyd vir my vertel en my verseker dat Emma in die beste hande kan wees.   Sy het goed gereageer op die stimulasie en was klaarblyklik baie opgewonde oor die tannie wat met die speelgoed by haar kom kuier elke dag.

Emma is 3 weke later ontslaan en as gevolg van omstandighede, is sy dadelik in haar grootouers se sorg geplaas.   Probleme wat dadelik gesien kon word, is voetjies wat skeef getrek het, wanbalans en swak spiertonus, probleme om te fokus agv retinale bloeding, net om enkeles te noem.  En sy moes alles weer van vooraf aanleer.  René was altyd baie geduldig en behulpsaam, selfs wanneer ons almal bietjie moedeloos gevoel het.  Daar was nooit enige tekort aan hulp, hetsy in persoon of telefonies nie en niks was ooit te veel moeite vir haar nie.  Ek kon eers in Junie 2017 na Bloemfontein verhuis en kon toe ook self betrokke raak met die behandeling.

Ons moes baie hard werk om Emma te kon help om alleen te sit, want sy het heeltyd omgeval.  Sy moes leer rol wat sy eie uitdaging gehad het, en daagliks oog oefeninge doen om te help fokus.  Sy het gebruik gemaak van ‘n speelmat om te leer kruip, maar het baie vinnig ‘n “boud-skuif” liewer aangeleer.  Daar was ook effense probleme om te kon eet, maar dis maklik oorkom.  Op 5 Oktober 2018, het Emma die eerste keer op haar eie, sonder ondersteuning geloop (sy was 21 maande oud).

René het haar min of meer elke 3 maand gesien, maar elke besoek was ‘n leerskool vir ons almal.  Met elke besoek het ons ook deur die mylpale gegaan om te kyk wat gebeur en alhoewel enige gewone mens my dogter as ‘n kind met ‘n agterstand sou sien, het René altyd net gesê sy vat bietjie langer.  Daar was nooit enige oordeel nie en sy het nooit vir my laat voel dat ek as ma misluk omdat my dogtertjie nie op die mylpaal is wat literatuur vir almal voorskryf nie.   Ook het René nooit iets probeer afmaak as minder ernstig nie, maar het vir ons die feite gegee oor al die uitdagings en probleme – iets wat ek verkies.

Emma-Lee is agv haar ouderdom nie meer ‘n pasient by René nie, maar nog voordat ek hulp gevra het, het sy reeds vir my die weg gebaan om die proses te kon begin om keuring vir my dogter by Martie du Plessis skool te kan kry.   Sy het ‘n geweldige liefde vir kinders en hul ouers en ‘n passie wat nie aangeleer kan word nie, maar aangebore is.  Waar ander terapeute deurlopend al genoem het dat my dogtertjie haar beperkings begin besef wat haar terughou, was dit nog nooit deel van René se woordeskat nie.  Ek glo nie dat dinge altyd toevallig gebeur nie en ek glo vas dat René vir ons uitgekies was in ‘n tyd wat ons self nie antwoorde gehad het nie.  En ek is haar ewig dankbaar vir die hoogtes wat ons kon bereik.

My dogtertjie het steeds ‘n agterstand in sekere areas in vergelyking met haar maatjies, maar sy weet dit nie.  Sy is soms bietjie stadiger as haar skoolmaatjies en kry ook intensiewe spraakterapie, maar sy doen dans by die skool, sy neem deel aan Monkeynastix, sy neem aktief deel aan skool uitstappies, sy ry fiets, speel op klimrame en speel net so hard soos enige ander kind.  En ons motto is “Ek kan alles doen”.